Search

Nuwe hoof by HTS John Vorster

’n Hoërskool in die Moot het vir die eerste keer in sy geskiedenis ’n vrou wat aan die stuur van sake staan. Antoinette Dowd is die eerste vrou skoolhoof in die geskiedenis van HTS John Vorster, sê Nicollette Vermaak van die bemarkingspan van die skool. “Sy is ’n dame van formaat,” sê sy. Volgens Vermaak was Dowd vir die afgelope 27 jaar deel van die John Vorster-span. “Sy is iemand met John Vorsterbloed wat deur haar are vloei en sy glo vas in haar Skepper,” sê sy. “Daarom weet ons dat sy ’n uitstekende skoolhoof sal wees. “Mag HTS John Vorster van krag tot krag gaan en onder haar leiding nuwe opwindende hoogtes bereik!”


Dowd is in Mei as die nuwe skoolhoof aangekondig en het in haar posisie begin toe skole weer in Junie heropen het. “Dit voel vir my ‘net reg’. Ek is vandat ek begin skoolhou het nog al die jare by tegniese hoërskole,” vertel Dowd. “Ek weet wat die waarde van so ’n studierigting is en kan met gesag daaroor praat. “Vir my gaan dit nie daaroor dat dit ’n man of ’n vrou in die pos is nie, solank daardie persoon ’n passie vir die skool en sy personeel en kinders het asook ’n visie van waarnatoe mens met die skool wil beweeg.” Dowd sê dit is vir haar belangrik dat die publiek daar buite besef dat daar in ’n tegnologiese skool geleenthede vir alle leerders is. “Die persepsie dat slegs leerders wat sogenaamd ‘met hulle hande wil werk’ hier hoort moet hokgeslaan word,” sê sy. “Die tegnologiese studierigting vereis hoë intellektuele vermoëns siende dat wiskunde en fisiese wetenskappe verpligte vakke by die skool is en nie bloot keusevakke nie. Dit is ook ondersteunende vakke vir die tegnologievakke.” Sy verduidelik dat bo en behalwe die tegnologieverwante studierigtings soos ingenieurs, argitekte, bourekenaars en vele meer, het die skool ook al sy kwota mediese dokters, predikante, mense in die regsvelde en vele ander opgelewer. “Hier is jy nie beperk met ’n rigting waarin jy wil gaan studeer nie,” sê sy. “Die verpligte vakke wiskunde en fi siese wetenskappe maak alle deure oop. En hierdie boodskap is wat ons wil uitstuur na die gemeenskap.” Dowd, wat ook in die Moot woon, het in April 1993 by die skool begin as die Engelse departementshoof. “Daarna is ek bevorder tot interne adjunkhoof en daarna was ek na senior adjunkhoof verplaas,” sê sy. Sy het begin skoolhou as ’n jong eerstejaar juffrou by die HTS Pretoria Tuine. “Dit was wonderlike jare in my onderwysloopbaan,” sê sy. “Behalwe vir akademie, was ek ook betrokke as landloop- en sagtebal-organiseerder en het ek tennis en atletiek afgerig.” Dowd sê haar groot liefde lê by leierontwikkeling, wat sy tot nou toe nog by betrokke is. “By HTS Pretoria Tuine is my grondslag as onderwyser gelê - mens was net eenvoudig by alles betrokke,” sê sy. “Van my mooiste herinneringe en blywendste vrienskappe kom uit hierdie tydperk. ’n Stukkie van my hart sal altyd aan my ‘eerste skool’ behoort.”


Sy sê haar grootste vreugde in die onderwys was om die groei en ontwikkeling in die kinders te sien. “Hoe hulle ‘mens’ word wanneer hulle hul doel en rigting besef,” sê sy. “Om daardie kern binne in ’n kind aan te raak en vir hom of haar hoop te gee. “Ons kinders leef onder geweldige druk en soms met groot trauma in hulle lewe. Skool is vir party van hulle die enigste plek waar hulle veilig voel, waar hulle aanvaarding kry,” sê sy. “Dis vir my belangrik dat HTS John Vorster daardie hawe vir kinders is -’n plek waar hulle binne grense hulself kan ontdek, kan groei en ontwikkel om eendag sy/ haar plek in die samelewing vol te staan.”


Dowd sê sy is geseënd om ’n werk te kan doen wat ook haar passie is. “Toenterjare was die enigste manier vir my om te kon studeer om ’n onderwysbeurs te kry,” sê sy. “Iemand het toe vir my gesê, ‘Antoinette, jy sal nooit ’n juffrou kan wees nie want jy praat heeltemal te sag’. Wat ’n groot genade dat dit toe nie of ek sag of hard kon praat wat bepaal het of ek my roeping gevind het of nie! Die Here het my voorwaar geseën.”


Geskryf deur Kayla van Petegem vir Rekord-Moot.


https://rekordmoot-epaper.products.caxton.co.za/wp-content/ftp/epaper_uploads/65/Rekord_Moot_24_July_2020/Rekord_Moot_24_July_2020.pdf




88 views1 comment
  • White Instagram Icon

© Copyright 2019 by HTS John Vorster. Proudly created with Wix.com

Kontak ons

Tel: 012 332 1760

Epos: info@htsjv.co.za

Adres

Meyerstraat 1072

Rietfontein

Pretoria